top of page
Die Waterplek: Afrika
omslag waterplek voorplat vir bemarking-1.jpg

Die Waterplek: Afrika

Protea Boekhuis, 2022

ISBN: 9781485310167

 

In stilte het hulle geluister na die geruis van die windskewe woud om hulle.

“Dalk is dit hoe die bome in die hemel lyk,” het Gibor hardop gedink.

“Waar is die hemel?” wou Eron weet.

“By die Waterplek.”

Drie herfse het verloop sedert dié dag toe Gibor Verberger so halfterloops die bestaan van die Waterplek aan sy seun bekendgemaak het. Baie water en bloed het intussen in die see geloop en nou verlaat die sewentienjarige Eron Verberger uiteindelik sy geboorteland in die hoop om die laaste Geseënde en sy pa by die Waterplek te vind: die skuilplek in Afrika wat Gibor vir die vlugtelinge van die Vuurstorm voorberei. Die seereis is lewensgevaarlik en sy verhouding met Lia is ’n ingewikkelde vervlegting van wantroue en begeerte. Sy pad kruis met ’n flambojante heerseres, ’n dogtertjie wat reënwind maak en 'n toweragtige bergvesting. Van die Onbekende Eilandgroep tot Olam, van Waširgzondu tot die Waterplek word Eron tot die uiterste gelouter, en moet hy homself afvra: Is hy waaragtig die honderdste Bergengel van Gabriëllië?

 

'n Wêreld van wonders wag in dié boek

Resensie deur Elzette Steenkamp

Rapport, Nov 2022

Lees

"Dit voel na 'n amper onmoontlike taak om dieselfde topgehalte beheer oor die taal, vlymskerp insigte en dig verweefde narratiewe boek ná boek, bladsy ná bladsy, vol te hou, maar Stander laat dit soos kinderspeletjies lyk. [...] Hierdie fantasieroman is voorwaar 'n kragtige verbeeldingsvlug wat geensins hoef terug te staan vir die werke van die grotes in die genre soos J.R.R. Tolkien en George R.R. Martin nie."

ELZETTE STEENKAMP, RAPPORT

Verbeeldingsvlug bars behoorlik uit die nate

Resensie deur Willemien Aukema

Die Burger, Beeld, Netwerk24, Okt 2022

Lees

"Dis 'n wêreld skatryk aan nuanses en die goue loklied van die bekende-onbekende. [...] Deur eerlike selfkennis is Stander se karakters onbeskaamd menslik - 'n ware kragtoer vir 'n verhaal wat so gemaklik met die magiese omgaan."

WILLEMIEN AUKEMA, NETWERK24

Karakters is eiewillig, verras my gedurig

Onderhoud met Christa Steyn

Maroela Media, Sept 2022

Lees

Carina Stander vier boek met smulborde, harpmusiek

Verslag deur Christa Steyn

Maroela Media, Sept 2022

Lees

Die Wonderwese
omslag wonderwese voorplat (1).jpg

Die Wonderwese

(Protea Boekhuis, 2019)

ISBN: 9781485310136

 

Sedert Eron Verberger en Velvel Azazel se geweldadige struweling in die Vallei van Bergstrome, het omstandighede in Gabriëllië geensins verbeter nie. Die Skoonbrand woed. Rondom die Klaagtermeer weerklink die Klokke van Hongersnood en in Nanaal offer desperate ouers hulle kinders aan ’n kultusleier om hulle ’n lewe van slawerny te spaar. 

Ten spyte van Eron se verminkte hand, is hy nou ’n begeesterde Voetwerker vir die Geheime Rewolusie teen Vuurstorms en op soek na die laaste Geseëndes op die Kaart sodat hy hom by sy pa in Afrika kan aansluit. By sy digtervriend Anav Elanov leer Eron dat woorde wapens is en hy stem in om ’n “opebinnekantvers” na die landsleiers  te neem –  ’n waarskuwing teen die gruwels wat gepleeg word in die opkoms van Gabriëllië as wêreldmag. Hy deurkruis stede, woude, moerasse, ysgrotte en bergpieke, bevriend boekgeleerdes en barbare, trotseer wolftroppe, dwaalgeeste en die nageslag van ’n wangeskape ras. Maar die knaende vraag in sy binneste bly: As die Wonderwese werklik bestaan, waarom is daar geen teken van dié Teenwoordigheid nie? Of kyk Eron iets wonderbaarliks heeltemal mis?

Die Bergengel en Die Wonderwese deur Carina Stander

Resensie deur Louise Viljoen

Maroela Media, Jul 2020

Lees

"Stander gaan met verbluffende en bewonderenswaardige gemak om met haar moedertaal. Sy skep skynbaar moeiteloos liriese prosa deur woorde, wêrelde, gebeure en karakters wat hulle oorsprong in die werklike, tasbare ruimte en die magiese het, te meng met 'n instinktiewe oerwysheid wat sekerlik net aan uitverkorenes behoort."

LOUISE VILJOEN, MAROELA MEDIA

'n Klankryke verbeeldingservaring

Resensie deur Nastasha van Rensburg

Literator, Mei 2020

Lees

 "Stander se vermoë om werklike probleme in die wêreld te belig in die vorm van ’n avontuurverhaal, is ontsagwekkend. Die Wonderwese is ’n enigmatiese, avontuurryke en byna poëtiese werk. As fantasieverhaal maak dit deurlopend gebruik van simboliek, allegorieë vanuit Bybelboeke en vindingryke metaforiek, wat tot die andersheid van die roman bydra. (...) Die Wonderwese moet egter as ’n narratiewe kunswerk gelees en geïnterpreteer word. Die taal- en woordgebruik is voortreflik en die liriese aard van die teks moet geprys word. Lees gerus Die Wonderwese, maar onthou om ál jou sintuie in te span om hierdie vervlegte heiligdom te ontrafel."

NASTASHA VAN RENSBURG, LITERATOR

Die Wonderwese deur Carina Stander
LitNet resensie
Jan 2020

Lees

"Die opvolgroman is donkerder, digter verweef, meer gemaklik in die liminale posisie iewers tussen digkuns en prosa, fantasie en allegorie. Stander speel met ’n geoefende hand met die taal. Haar slim verwewing van Bybelse tekste, sprokies, filosofiese vraagstukke en tong-in-die-kies verwysings na haar eie digkuns en populêre kultuur dui op ’n volwasse skrywer in volkome beheer van haar kuns."

ELZETTE STEENKAMP, LITNET

 'n Boek wat jou tot stilte ruk

Resensie deur Jonathan Amid

Die Burger, Beeld, Volksblad, Des 2019

Lees
"Soms kom ʼn boek oor jou pad wat jou ten spyte van jou aandagafleibaarheid tot stilte ruk. ʼn Boek vol oerwysheid, beleë. Die begin van ʼn reismistiek wat durf om aan te kondig ‘Toe was daar’. Met ʼn verhelderende lig wat as't ware daaruit skyn en die soort spel en verlustiging in en met en van taal dat dit tot ʼn soort sinsverrukking lei. ʼn Fantastiese boek, in elke sin van die woord. ʼn Verbeeldingsvlug en ʼn verbeeldingsvrug, ʼn vreemd-oorrompelende, majestueus-liriese, uitspattige, bars-uit-sy-nate, genre-brekende bekoringsboek."

JONOTHAN AMID, NETWERK24

Skrywersonderhoud: Carina Stander oor Die Wonderwese

LitNet, Jan 2020

Lees

'n Nuwe era begin straks

Resensie deur Johannes de Villiers

Rapport, Nov 2019

Lees

 "'n Mens vermoed met dié reeks het ons uiteindelik in Afrikaans fantasieboeke wat wêreldwyd langs die bestes in hierdie genre kan staan. [ ] Dis goed moontlik dat ons eendag sal terugkyk en Carina Stander se Bergengel-trilogie gaan onthou as die gebeurtenis wat 'n nuwe era in Afrikaanse spekulatiewe fiksie help inlui het."

JOHANNES DE VILLIERS, RAPPORT

Kleinkaap goes Steam Punk for Die Wonderwese book launch

Lees

Lesersindruk: Die Wonderwese deur Carina Stander

Resensie deur Clari Niemand

LitNet, Nov 2019

Lees

"Daar is deur resensente uitgewys dat ons hier iets het wat nog nooit tevore in Afrikaans aangepak is nie. Die briljantheid waarmee landskappe, dialekte, persone, etniese groepe, legendes en soveel ander fyn geweefde detail uitgewerk is terwyl daar terselfdertyd onder dié tapisserie met onderstrominge van maatskaplike en etiese dilemmas gewerk word, is indrukwekkend. Enige iemand wat in haar (en Eron) se voetspore sal wil volg, sal Carina Stander se verbeelding, haar dapperheid, maar ook haar sagtheid, moeilik ewenaar."

CLARI NIEMAND, LITNET

Vlugtige blik op literêre wonderwêreld 

Vrye Weekblad, Nov 2019

Lees

Die Wonderwese kry lewe met vuurblasers, kos uit ‘n boek

Verslag deur Christa Steyn

Maroela Media, Nov 2019

Lees

Die Wonderwese – reismistiek en fantasie-avontuur

Onderhoud met Deborah Steinmar

Skrop, Okt 2019

Lees

Die Bergengel

Die Bergengel

(Protea Boekhuis, 2017)

ISBN: 9781485307501

 

In die land Gabriëllië het reeds dertien jaar verloop sedert daar enige teken van 'n Bergengel was en die jongmense glo byna nie meer in die bestaan van dié mitiese wese nie. Eron Verberger, seun van die klokgietersegpaar Gibor en Alida Verberger, word egter gedwing om met nuwe oë na fantasie en werklikheid te kyk wanneer hy saam met sy pa op 'n lewensveranderende avontuur vertrek - 'n reis wat alles wat hy van die lewe in Gabriëllië weet, sal omverwerp. Kan Eron die sinestere Stelstapper afskud en die smeulende Vuurstorm oorleef? Sal hy 'n mán kan word waarop sy pa trots is of gaan die geheimhouding en skuld rondom sy pa hom uiteindelik vernietig? Meer nog: Terwyl Eron die lewe met sy eie verstand en al honderd sy sintuie ontdek, sal hy heldersiende genoeg kan bly om nie die kleur van sy verbeelding te verloor nie?

"Letterkunde as kulturele ekologie in Die Bergengel"

Tydskrif vir Letterkunde

Sept 2019  (Uitgawe 56, nr 2)

Lees 
"In Die Bergengel wil die gebeure op die primêre verhaalvlak die magsmisbruik van die mens uitspel; die taal wil teenstand bied daartéén - om te praat, met besondere estetiese krag, oor die besondersheid, broosheid en onvervangbaarheid van die natuur....[ ] Dis bevind dat die sfere van kultuur en natuur met die talent van ’n woordmeester geïntegreer word."

SUSAN MEYER, TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE

"Die Bergengel, – ’n diggeweefde tapisserie"

Resensie, Literator 

Jan 2018 (Volume 39 Number 1)

Lees

Soos Alida Verberger in Die Bergengel tapisserieë weef wat tonele van haar klokreise saam met haar man uitbeeld, weef Carina Stander in hierdie roman ’n unieke storiewêreld wat die leser uitnooi om fyn te lees en ánders te kyk.  
FRANCI GREYLING, LITERATOR 

"Fantasie betower in 'n tyd van ontnugtering"
Resensie, Kies 'n boek in, Vrouekeur
Maart 2018

Lees

Stander is ʼn baanbreker vir die fantasiegenre in Afrikaans. 

WILLIE BURGER, VROUEKEUR

"Die Bergengel deur Carina Stander"
LitNet Akademiese resensie-essay
Sept 2017

Lees

Die magiese elemente van Die Bergengel verryk die verhaal en dra by tot die meesleurende, amper gewyde, toon van die roman. In hierdie geval skep elemente van onder andere spekulatiewe fiksie, allegorie, magiese realisme, bildungsroman en ekokritiek, asook die verwewing van natuur, bonatuur en die menslike elemente, ’n intelligensie en literêre diepte wat die roman verhef tot een met meer om die lyf as ’n blote fantasievlug.

ELZETTE STEENKAMP, LITNET

"Verbeelding wat deurgaans betower"

Resensie, Boek van die Maand in Maroela Media

Aug 2017

Lees

Dit is juis Stander se vernuf om te verbeeld wat in dié roman, die eerste van drie, so voorop staan. En daarmee saam die vaardigheid om te verbeel. Die leser.. onderneem die (geestelike) ontdekkingsreis saam met Eron met genoegdoening, verstom hom of haar aan die verbeelde landskap en gee vrye teuels aan sy of haar verbeelding.

JOHAN MYBURG, MAROELA MEDIA

"Roman verhef woord tot heiligdom"

Resensie in Beeld, Die Burger, Volksblad

Julie 2017

Lees

"Die Bergengel: 'n onderhoud met Carina Stander"

LitNet

Julie 2017

Lees

"Stander sprei haar vlerke met magiese trilogie"

Onderhoud in Beeld en Die Burger

Mei 2017

Lees

Dis 'n prag-roman: fabelagtig mooi en volwasse, met ware diepte en insig, enigmaties maar ook toereikend.

JONOTHAN JONO AMID, NETWERK24

Die Bergengel is 'n mistieke reisverhaal, ’n poëtiese en byna gewyde kunswerk in ’n literêre gedaante wat nog nooit tevore in Afrikaans teëgekom is nie. Enersyds skryf Carina Stander met die genuanseerde stem van ’n wysgeer wat universele waarhede en filosofiese kwessies sonder sentimentaliteit oopskryf, andersyds bied sy ’n avontuurverhaal met verbeeldingryke karakters en boeiende kinkels wat van uitsonderlike verteltalent getuig. 

AMELIA DE VAAL, PROTEA BOEKHUIS

Wolkland

Wolkland

(soos vertel deur Aden van Niekerk aan sy ma Carina Stander, Cordis Trust, 2013)

ISBN: 9780992205706

 

"Mamma, ek skryf 'n storie van toe God lief was vir alles op die aarde. Ek skryf dit met my asem." Dit was die woorde van my oudste seun Aden toe hy 3 jaar, 8 maande en 7 dae oud was. In 2012 het Cordis Trust die Orde van die Goue Pen aan my toegeken - die prys behels onder meer ’n publikasieopsie en ek het dit gebruik om my kind se vroegste stories te boekstaaf.  Die stories, soos die tekeninge en kleibeelde, is Aden se eie skeppinge uit sy eerste vyf lewensjare. Die uitvloeisel is 'n verbeeldingsboek deur 'n kleuter, bedoel vir kinders groot en klein en almal wat kinders koester. Lesers kan saamreis na die betowerende Wolkland waar 'n trop dinosourusse, slim drake, selakante en ander vreemd-wonderlike diere wag. Saam met sy denkbeeldige vrou Nana en hulle string kinders is daar ook allerlei avonture. Die ruimhartige Cordis Trust het al die kostes asook die druk van die eerste 200 boeke gedra en Aden kon 'n allemintige 100% van die verkoopprys ontvang. Ons noem dit Aden-se-Avontuurfonds. Die eerste oplaag is binne drie weke uitverkoop en uit die opbrengs het ons al vier herdrukke van die boek gefinansier. Na afloop van die verrassende media-dekking (Wolkland was boek-van-die-maand in Rapport en die KykNet program Kwêla het 'n 15 min insetsel daaroor gedoen) was dit nr7 op die topverkoperlys van Graffiti. Vandag is Adens steeds 'n verbeeldingryke seunskind wat hou van maats, wiskundig, lees, beeldhou en boomklim; 'n kind met 'n buitengewone liefde vir stories, die natuur en avontuur.

 

"Aden is 'n digter en 'n kunstenaar - en 'n profeet. En dit sê ek nie ligtelik nie. Wolkland is 'n boek wat elke grootmens moet lees. Om hom en haar te herinner dat 'n kind belangriker dinge sien en dink en sê as grootmense."

RIANA SCHEEPERS

"Wolkland is die uitdinksels van 'n besonder verbeeldingryke en verstommend belese kind. Dis ook 'n simbool van 'n grootmaakproses wat 'n ruim klein siel help vorm en skep. Dit gee 'n blik in die geesteswêreld van 'n skeppende en woordbegaafde kind wat in 'n skeppede huis grootword."

REGINA MALAN, ROOI ROSE 

"Ek kan nie dink dat ek al ooit voorheen so iets in Afrikaans teëgekom het nie. Dit is nóg ʼn kinderboek, nóg ʼn volwasse boek. En al gaan dit oor sprokiesagtige karakters in ʼn wolkerige droomwêreld, sal dit jonk en oud se harte en verbeelding aangryp. Ek sal dit graag ʼn kreatiewe-kindwees-dinkboek wil noem." 

SOLET SCHEERES, MAANDBLAD ZUID AFRIKA 

Wildvreemd

Wildvreemd

(Tafelberg uitgewers, 2011)

ISBN: 9780624053392

Nege jaar gelede trek 'n vreemdeling van onsekere herkoms alleen by die Ruig in -– 'n stuk oewerbos in die Waterberge van Limpopo. In die jare wat volg, bekwaam sy haar as uitsonderlike byeboer. Al besoek sy die dorp net een maal 'n maand, word sy uit alle rigtings beskinder: dit is sý wat die brand gestig het, word gesê, en sy vergiftig seuntjies. Die letsel aan haar keel is die bewys dat 'n hiëna haar gebyt het, daarom is sy stom. 'n Allergevaarlike vrou is sy. 'n Heks of hoer. Mal. Nege jaar ná haar aankoms stap sy nog ’n keer dorp toe, dié keer gedryf deur haar werklike bemoeienis, ’'n alleenstryd teen wildstropers. Die hele dorp hou asem op. Dan breek daar ’'n brand teen die berghange uit . . . en dis asof almal se vrese en begeertes, ou wrokke en verlangens self in vlamme uitbars. Uit die mond van agt ek-vertellers blyk dit hoe almal in die verhaal vervleg is, dat elkeen skuldig is én broos, elk met 'n unieke swakheid en krag, humor en hartseer en 'n vreemdsoortigheid wat van elkeen op sy eie manier 'n buitestander maak – 'n wildvreemdeling. Hierdie is 'n verhaal van slagting, van die doodgeswygde en vryheid. Veral vryheid.

Wildvreemd word tans in 'n draaiboek omskep deur 'n Johannesburgse filmmaatskappy. Dit was voorgeskryf vir Afrikaanse privaatskole (IEB) van 2014 tot 2016. Dis in Nederlands vertaal deur Riet de Jong-Goossens (Uitgeverij Athenaeum, 2013)

Wildvreemd  is 'n werklik uitstekende, priemende, onkonvensionele, wild-vreemde teks oor die wilder bestaan van die verwilderde vroumens op aarde. [...] 'n Wydgrypende, warmbloedige boek, wat plek-plek verby rede verbysteek na die Groot Onrede toe. [...] Die skryfster ken 'n groot klomp slinkse draaie – seker maar by die diere afgekyk, van wie sy 'n klomp goed weet wat gewone mense nie weet nie. Sy hét wildkennis, en pas dit toe. Daar kom dus iets oers in die teks na vore, iets van natuurkrag en –woede. Die belewenis van die Ongetemde. Hierdie skryfster het 'n baie groot gawe vir die klein en noukeurige waarneming van die werklike wêreld. Sy is 'n gawe gods in daardie loopveld. Dit is 'n groot dinamo in hierdie boek: haar helder, inklusiewe, toegepaste, begeesterde wildwêreldkennis – 'n gawe van intuïsie én beheer.

PETRA MULLER, keurverslag aan Tafelberg uitgewers.

Hierdie verrassende debuutroman van die digter Carina Stander is 'n kragtoer van wonderlike taal, onverwagse stemme en 'n verhaallyn wat jou regdeur op die punt van jou stoel laat sit. [...] Hierdie boek is werklik asemrowend; die leser word uitgedaag, raak lief vir die karakters en raak ook ingetrek by en gemoeid met die kleindorpse dramas wat hulle deur die verskillende stemme van die karakters uitspeel. Absoluut aangrypend.

ROOI ROSE

Stander se buitengewone kennis van die natuur en sensitiewe beelding maak van wildvreemd 'n roman wat die leser meevoer. Die gedagtewêreld van die karakters oorheers die teks, en die atmosfeer is dromerig en impressionisties. Op haar beste grens Stander se waarneming aan die sublieme, terwyl die intriges en legkaart van perspektiewe die leser sal boei.

BEELD

Tot het einde toe houdt de meester, Carina Stander, de dichter, het verhaal in de hand, ze blijft de lezer boeien en ze geeft het verhaal niet alleen schoonheid maar ook inhoud mee.[...] Een prachtig boek. Warm aanbevolen.

RIET DE JONG-GOOSSENS, MAANDBLAD ZA

"Carina Stander en Wildvreemd: Albei deur die meule"

LitNet onderhoud

Des 2011

Lees

bottom of page