Kunsagtergrond
Ek het van kleins af geweet dat ek my lewe aan die skeppende woord én beeld wou wy; aan skryf én kuns. Ek was tien jaar oud toe ons eers keer elektrisiteit gekry het – en televisie. My verbeelding is meestal deur boeke gestimuleer en deur die vergesogte kontreistories van die Waterberg. Visuele stimulasie was die bekende: in die leiklipvloer van die plaashuis het ek figure gesien, daar was diere in die rooiboshout se vlamme. Ek het beelde gemaak uit alles organies wat ek kon vind en prente geverf met beetsap en rooibostee. Vandat ek agt jaar oud is, het ek my eie stories en gedigte geillustreer.
​
Ná skool het ek Beeldende Kuns aan die Universiteit van Pretoria studeer en 'n honneursgraad behaal met Beeldhou en Visuele Kommunikasie as hoofvakke. In 2000 is ek vir 'n paar jaar oorsee om te reis soos die wind en my studieskuld af te betaal. Ek het beelde gegiet in die kunsateljee van 'n afgetrede beeldhou-dosent in Cambridge en gewerk in 'n katedraal wat in die grootste kunsgalery van die Skotse Hoogland omskep is.
​
Terug in Suid-Afrika het ek my ingeskryf vir die meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Ongeveer 200 reisartikels en rubrieke het gevolg, asook twee digbundels en twee romans wat ek elke keer bekendgestel het met 'n solokunsuitstalling, 'n visueelmaking van karakters en tonele uit my boeke. Woorde word beelde. Verbeelde woorde. In my werk beskou ek die wisselwerking tussen beeld en woord as 'n gelyke uitlewing van dieselfde kreatiewe energie. My visuele kuns is narratief, terwyl my skryfwerk gekenmerk word deur juiste beskrywings wat 'n visuele karakter daaraan verleen. Die Bergengel is die eerste verhaal in ’n trilogie. As reismistiek, uitgebreide metafoor, gelykenis of allegorie speel dit in op die tradisie van antieke Joodse geskrifte soos Die Boek van Enog, bekende Bybelverhale en sprokies. Kahlil Gibran se The Prophet en Dante se Inferno maak ook deel uit van die intertekstuele weefwerk. Soos by The Alchemist van Paulo Coelho, is hier trekke van magiese realisme en ’n seun se reis na ’n binnelandskap. Die grootste vonk vir die ontstaan van Die Bergengel is ’n magdom dagboekinskrywings tydens my reise op die woestynberge, sneeuberge, eilandberge, bergstede, bergwoude en vulkaniese berge van twee dosyn lande – en dis die foto's wat ek tydens reise geneem het, wat ek gebruik as visuele verwysings vir my kunsuitstalling van Die Bergengel.
​
Of dit nou digkuns of verhaalkuns of visuele kuns is: byna al my werk ontspring uit reismistiek of natuurmistiek en het trekke van die Magiese realisme of Surrealisme, die droomsfeer. Binne die surrealistiese beweging vind ons 'n uitruiling tussen kunstenaars en skrywers wat mekaar se werk illustreer of toedig. Surrealisme wil dit hê dat kuns in die dieptes van die mens, die wonderbaarlike (le merveilleux), ontstaan. Ek is gefassineer deur hierdie spel tussen werklikheid en bowerklikheid (surréalisme), die ontginning van die élan vitale, die intuïsie en die soeke na 'n mystère of geheim. Ek waak egter teen die Surrealisme se geneigdheid tot 'n oordrewe subjektiwiteit en privaattaal; 'n metafisiese benadering wat dikwels in só 'n mate rondspring, dat dit die kunskyker of leser se aandag verloor.
In my skryfkuns en visuele kuns rig ek my tot 'n verwysingsnetwerk met kollektiewe simbole van artistieke aard, onder andere Art Nouveau, waarskynlik omdat dit gebruik maak van vroulike motiewe en gewortel is in plantkunde en botanie. 'n Ander kunsbeweging waarmee my werk in gesprek tree, is die sogenaamde Naïewe kuns. Naïewe kunstenaars volg meestal 'n landelike bestaan, daarom vind ons trekke van die folkloristiese, instinktiewe, emosionele, narratiewe, outobiografiese en primitiewe in hul werk. Hierdie kunstenaars staan ook as Neo Primitiviste of Moderne Primitiviste bekend en hul werk impliseer 'n romantiese en eksotiese beskouing van die wêreld en van die self. Daar is ondeurdringbare bosse, herders op berge, maanverligte nagtonele en oomblikke uit die alledaagse plattelandse lewe. Naïewe kuns is egter nie altyd naïef nie. Ons vind ook slagvelde, verwaarloosde en waansinnige mense. Dit is egter die Naïewe kunstenaars se uitbeelding van 'n ongerepte, mitologiese ruimte wat tot my spreek.
​
In 'n poging om die onverklaarbare te verklaar, herskep ek die werklikheid deur middel van 'n eie mitologie. So probeer ek 'n alternatief lewer vir die bloot rasionele belewenis van realiteit. Diere wat 'n mitologiese funksie in my werk vertolk, vereis van die kyker en leser om te vra: Waarvan is dit verteenwoordigend? By nadere ondersoek sal dit blyk: gevleueldes soos die voël, vlinder en naaldekoker word verbind met die lug, die wind, die voortekens van redding en grensloosheid, omdat vlerke die kenteken van hemelwesens is. Die boom, wat gereeld in my werk opduik, met sy ondergrondse wortels en takke in die lug, word in verband gebring met die berg, wat weer in verhouding staan met die hemelse, aardse en onderaardse. Die boom is ook die simbool van onsterflikheid, omdat sade kan herleef en wortels en takke kan uitloof selfs ná teëspoed soos droogte of vuur. Hierdie sikliese konsep van viriliteit na die dood lê na aan die hart van my skryfkuns en kuns. Karakters word dikwels uitgebeeld as inisiante wat die siklus van slagting tot genesing voltooi. Na die opwekking uit die sogenaamde skyndood, is daar 'n wete van wat benede die onbewuste lê. Die inisiant as bonatuurlike wese, glo in die ewige lewe, in skeppingskrag wat heers oor dood. Die alledaagse word heilig en die heilige word alledaags. Alles én niks is dus heilig én alledaags nie.
​
In my honneursjaar het ek in beeldhoukuns gespesialiseer – waarom wend ek my deesdae meestal tot inksketse? Daar is die bloot praktiese verduideliking: ink is 'n onmiddellike, blitsvinnige medium wat ideaal is vir 'n ma van twee jong seuns! Daar is die finansiële verduideliking: ink is bekostigbaar, ook vir die kunskoper. Maar dit is veral die verrassingselement van ink wat my verlei. Die toevallighede. Ink is 'n gunstige medium vir die metamorfoses wat ek graag met die sketse wil uitbeeld. Die vrye vloei; die spontane oriëntasie; die proses van wording en beweging; die oomblik wanneer lewensvorme oor wisselende funksies en betekenis beskik. So word elke skets 'n venster wat oopmaak op 'n verbeeldingsvlug.
​
Deur die gebruik van metaforiese taal en beelding, is daar by my 'n voortdurende soeke na 'n moontlike wêreld, 'n nuwe beelding. 'n Metafoor bring kategorieë saam wat voorheen vreemd was vir mekaar, sodat die huidige kategorisering verskuif kan word deur die proses van assimilering - een voorwerp neem n ander voorwerp se eienskappe oor, al lyk dit asof hulle nie saamhoort nie. Metaforiese taal en beelding is daarom ook draers van Hoop, omdat dit moontlikhede in realiteit ondersoek wat voorheen onmoontlik gelyk het. So stel Paul Ricour dit: "Man is founded, at the heart of his mythicopoetic power, by a creative word. Is not The Good News the instigation of the possibility of man by a creative word?"