Aartsbiskop Tutu tussen hemel en aarde

Aartsbiskop Desmond Tutu staan op die strand. In sy hand hou hy 'n eier - die oersimbool van 'n nuwe begin. Agter hom beweeg die seevoëls vrylik. Só beweeg Tutu ook tussen die verskillende kulture en tale van ons land; tussen die menslike en bomenslike; tussen die aardse en hemelse. Wat skuil daar nie alles in 'n eier nie. Hoofsaaklik hoop? Is dít die verskuilde aard waarmee elke wese gebore word? Die migrerende seevoëls laat my ook wonder: waar aard ons, voel ons tuis? Ek raai Tutu sou hierop antwoord: ons hoort in Eden. Hierom beur ons telkens terug na die begin. Die oorbegin. Die weerbegin. Die hergeboorte. Dis asof ons die hemel maar net nie kan afsterf nie.