toe Hy haar oë wakker soen het sy die Oggendster sien brand

Erflating I

Stiefouma was 'n oujongnooi
wat orrel speel en kerkkoor sing;
by oupa Koot die wewenaar
erf sy dié orrelpypie string:


drie seunskinders met driekwartbroek
wat skiet vir vleis en soggens melk;
drie dogters wat kouse stop
en smiddae botter karring


'n Paar dekades later
met al die kuikens uit die huis
het Stiefouma steeds lank en slank
bo oupa Koot gerank


Een somersnag van sterre
toe jakkalsbessiestruik wit ruik
en die kremetart se handgroot vrug
lanterns swaai-swaai deur die lug
het Ouma soos 'n sekelblom
- in pienk en wit in malse soet -
die Waterberge in gewaai


In laatdaglig kon sy die krul
van 'n koedoehoring tel;
'n vlakvarkbeer het teen haar voet
gesnuif na wortel en na knol;
aan die visarend se vlug geraai
is 'n uilskuiken gevang;
en duskant die Mokolorivier
kon sy die huiwerende spoor
van 'n luiperdwelpie lees


Op die berg het sy 'n Man gesien
wat suutjies nader kom:
stormwind in Sy duifgrys hare;
die melkweg 'n vlieswolk
om Sy sandkleur skouers;
duideliker as somerreën
was Hy die één fynsinnige besoeker
wat vingers soos vuurvlieë
laat tintel oor haar hand


Toe Hy haar oë wakker soen
het sy die Oggendster sien brand

UIT: die vloedbos sal weer vlieg, Tafelberg 2006