van die dag toe Jy met boomgoed in Jou oop hand voor my kom staan


Nomvula, Nomvula, kom speel met My


ek het altyd geweet Jy het my lief
van die dag toe Jy
met boomgoed
in Jou oop hand
voor my kom staan:


die naguiltjie se borsvere
was ligbruin takkies
wat sigsag om 'n stam;
heuningstroop
en mamba-eiers
soos vruggies
in Jou offerhand


Nomvula, Nomvula, kom speel met My
vra Jy


nou gaan ons kameelboom klim
deur blare veervormig
en blomme vinkgeel
en afkyk hoe die koedoekoei
'n peul herkou
van grys gekruide fluweel
luister-luister, fluister Jy
die melk in haar uier
tap voller soos die maan



dit is tyd om huis toe te gaan
maar Jy breek fynhoutjies
en pak 'n vuur
sodat ek langer hier moet bly;
die kewers en hemelsbloutjies
skud Jy tydsaam uit die saad
wat na roosterkoffie ruik


dis nou dat ek vra hoe lief het Jy my?
oor ek weer wil hoor
dat Jy sê ek is Nomvula -
die kind wat gebore is
op die dag wat dit reën


anderdagmiddag
vlieg die son uit sy hoë nes
en land op die horison
Nomvula, Nomvula, kom speel met My
roep Jy
ek dog nie nou nie
ek's lui vir speel


wanneer ek uitstap
sit Jy in die mik
luister-luister, fluister Jy
die takke kreun Nomvula


Jy kyk my stil en stip-stip aan
Jy vleg 'n kransie met Jou kaalhand,
sirkelrond en sterk en heel
die dorings dikker as my duim,
Jou hande rou gestroopte bas


ek huil en roep klim af, klim af
maar in Jou lê die liefde
soos 'n saadvrug in 'n peul

UIT: die vloedbos sal weer vlieg, Tafelberg 2006