Na twee operasies en vyf maande in die hospitaal, was Pa gesond van kanker.
Ons het soos voëls of engele tussen hemel en aarde gesweef.
En die lewe was onwerklik mooi.
Vlugte voëls
Die vroegste vrugte is gepluk.
Bo die plaashuis
teen die dwaalberg
hoor ons gerugte
van duiwels
of lemoenduiwe
wat met kaneelbruin kele
'n sagte koee-koeek roep.
Ma sê vlugte voëls volg Pa:
vinkswerms in geel en rooi,
bosluisvoëls soos spikkels wit
wat op die rûe van koeie
met uitpeuloë sit,
'n wildegans wat hoorbaar sluk
en styg uit die buik
van die rivier.
Dit is reeds donker hier
as 'n gansveer vreedsaam
stroom-af dryf.
Soggens oes Ma soetvrugte
en skryf:
"tussen gewond en gesond
is net een letter verskil."
Sy vermoed
die beweging van engele
in haar bloeiende boord.
UIT: die vloedbos sal weer vlieg, Tafelberg 2006